Romeine 5:9-13 Die Boodskap (DB)

9. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie.

10. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie?

11. Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is.

12. Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars.

13. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie.

Romeine 5