3. Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang?
4. Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê: “Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.”
5. God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.)
6. Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie.
7. Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is.
8. Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry.
9. Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie.
25-26. Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo.
27. Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen.
28. God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie.
29. Hierdie goeie nuus geld vir die Jode sowel as vir ander volke. Die Jode het mos nie die alleenreg op God nie.
30. Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie.
31. Al gaan dit nou nie meer oor wat ons vir God moet doen nie, maar oor wat Hy vir ons doen, beteken dit nie dat die wet van Moses sy betekenis verloor het nie. Inteendeel, ons geloof gee juis aan die wet sy regte plek. Nou kan almal wat glo, die wet gehoorsaam.