10. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode.
11. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie.
12. As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan.
13. Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê.
14. Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld.
15. Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is.
16. Op die laaste dag wanneer God sy finale uitspraak gee oor die diepste geheime in ons elkeen se lewe, sal almal kan sien dat hierdie mense ook gedoen het wat Hy vra. Hierdie goeie nuus wat ek met julle deel, het ek van Christus Jesus ontvang.
17. Jy spog so graag oor jou Joodse afkoms en jou wet. Jy vertel vir almal dat God jou God is en dat jy sy wil ken.
18. Boonop maak jy asof jy presies weet wat reg en verkeerd is omdat jy die wet op die punte van jou vingers ken.
19. Omdat jy so danig belangrik is in jou eie oë, het jy jouself aangestel om mense wat nog in die donker rondlê na die lig toe te lei. Jy dink dat jy net die regte een is om die blindes na God toe te bring.
20. Jy beskou jouself as die groot leermeester van almal wat niks weet nie, as die onderwyser van almal wat nog maar kinders in die geloof is. Jy dink dat jy al die kennis en waarheid in pag het.
21. Maar ek wil jou ’n vraag vra. Jy wat so vinnig is om ander mense te leer hoe hulle moet leef, hoekom doen jy nie ’n slag wat jy leer nie? Jy preek graag vir ander dat hulle nie mag steel nie. Maar wat van jou? Steel jy nie?
22. Jy sê dat ’n mens nie ontrou aan jou huweliksmaat mag wees nie. Wat van jou? Maak jy jou nie skuldig aan ongeoorloofde seksuele verhoudings nie? Jy vertel hoe jy die afgode haat. Maar intussen leef jy net soos daardie spul wat hierdie afgode aanbid.
23. Jy spog graag oor jou groot kennis van die wet. Tog oortree jy dit. So maak jy ’n bespotting van God se goeie Naam.