Romeine 15:20-31 Die Boodskap (DB)

20. Ek het vir my een doel voor oë gestel: ek moes in plekke gaan preek waar mense nog glad nie van Christus gehoor het nie. Dit is nie my taak om die evangelie te gaan verkondig waar mense al klaar die evangelie bekendgemaak het nie.

21. My leuse word in die volgende Bybelteks saamgevat:“Daardie mense wat nog nie van die Here gehoor het nie - hulle sal Hom sien! Hulle wat nog glad nie van Hom gehoor het nie - hulle sal verstaan waaroor dit alles gaan!”

22. As gevolg van al my sendingwerk kon ek tot nou toe nog nie daar by julle uitkom nie.

23. My werk in hierdie streke is egter nou afgehandel. Daarom kan ek my jare lange droom om Rome toe te gaan uiteindelik waar maak.

24. Ek gaan binnekort Spanje toe. Op pad soontoe kom ek dan ’n rukkie by julle oorbly. Daarna kan julle my op die pad na Spanje toe weghelp.

25. Voordat ek na julle toe kom, moet ek net eers in Jerusalem ’n draai gaan maak. Ek is op pad soontoe met ’n groot geldelike bydrae vir die gelowiges wat daar bly.

26. Hierdie geld is deur Christene in die provinsies van Masedonië en Agaje vir die arm gelowiges in Jerusalem ingesamel.

27. Hulle het hierdie liefdesdiens met groot geesdrif onderneem. Eintlik is dit ook hulle plig om die gelowiges in Jerusalem te help. Hulle het immers groot geestelike geskenke van daar af ontvang. Die goeie nuus oor Jesus Christus het mos van Jerusalem af na die hele wêreld toe uitgekring. Daarom is dit ook net reg dat die Christene van Masedonië en Agaje hulle geld met die arm gelowiges in Jerusalem deel.

28. Sodra ek hierdie wonderlike geldelike bydrae van die gelowiges uit Masedonië en Agaje veilig in Jerusalem besorg het, gaan ek Spanje toe. Op pad soontoe kom bly ek dan by julle daar in Rome oor.

29. Ek weet dat my plan om julle te kom besoek Christus se volle goedkeuring en sy seën wegdra. Daarom wag daar ’n groot fees op ons almal.

30. My liewe broers en susters, ek wil tog iets belangriks vir julle vra: bid asseblief vir my! Ek vra dit in die Naam van ons Here Jesus Christus. En ek vra dit omdat die Heilige Gees ons almal met liefdesbande aan mekaar vasgebind het.

31. Julle moet baie ernstig vir God vra om my te beskerm teen al die ongelowiges daar in Judea. Bid ook dat die Christene in Jerusalem hierdie geldelike bydrae wat ek na hulle toe vat, sal aanvaar.

Romeine 15