Romeine 15:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie. Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor ons nie.

2. Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou.

3. Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê:“Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.”

4. Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here.

5. Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê.

6. Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.

7. Julle moet mekaar asseblief aanvaar. Onthou: Christus het julle almal met oop arms aanvaar en op hierdie manier groot eer aan God gebring.

8. Christus het aarde toe gekom om die Jode te dien en om te wys dat God sy woord hou. So het Hy die beloftes wat God aan hulle voorouers gemaak het, waar laat word.

9. Maar Christus het gelukkig nie al die ander volke vergeet nie. Hy het hulle so jammer gekry dat Hy ook aan hulle ’n plek in God se nuwe koor gegee het. Daarom maak hulle nou ook sy Naam groot. Die Bybel vertel ook vir ons hiervan:“Saam met mense uit ander volke sal ek u Naam grootmaak. Ek sal u Naam loof deur ’n psalm tot u eer te sing.”

10. En ook:“Wees bly, almal van julle wat aan ander volke behoort. Wees bly saam met almal in Israel.”

11. En:“Mense van alle volke: Prys die Here! Almal op aarde: Loof die Here!”

12. Of soos Jesaja sê:“’n Baie belangrike persoon sal uit ons voorvader Isai se nageslag kom. Hy sal oor die hele aarde regeer. Almal sal hulle hoop en vertroue in Hom stel.”

13. Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die groot krag van die Heilige Gees in julle lewens, altyd oorvloedige hoop hê. Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil.

14. My broers en susters, ek weet van al julle goeie eienskappe. Julle is toegewyde mense. Julle het ook baie kennis oor God. Boonop help julle mekaar om te leef soos God dit wil hê.

15. Daarom moet julle tog nie dink dat my brief, wat hier en daar nogal skerp is, as kritiek teen julle bedoel is nie. Glad nie. Ek sê maar net reguit alles wat God deur sy goedheid van my verwag om vir julle te sê.

Romeine 15