2. Hulle twee het probleme gehad en sy het teruggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem. Na ongeveer vier maande
3. het hy besluit om te gaan kyk of hy haar kon oorreed om terug te kom. Hy het sy dienaar en twee donkies saamgevat. By die huis aangekom, het die pa hom die huis ingenooi en hom vriendelik verwelkom.
4. Sy skoonpa het by hom aangedring om ’n ruk by hulle te bly. Hy het ingestem en drie dae daar gebly. Hulle het saam gekuier en geëet en die nag daar oorgeslaap.
5. Op die vierde dag was die man reeds vroeg op en reg om terug te gaan huis toe. Maar sy skoonpa het vir hom gesê: “Eet eers iets, dit sal jou goed doen. Jy kan mos maar ’n bietjie later vertrek.”
6. Hy en sy skoonpa het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die skoonpa sê toe vir hom: “Bly nog ’n nag hier en kuier lekker.”
7. Die man het al op die punt gestaan om te vertrek, maar sy skoonpa het so by hom aangehou dat hy uiteindelik ingestem en die nag daar deurgebring het.
8. Vroeg die môre op die vyfde dag het hy gereedgemaak om te vertrek. Die skoonpa sê toe weer: “Eet eers iets voor jy gaan; jy kan mos vanmiddag ook nog betyds wegkom.” Hulle het toe weer saam geëet.
9. Toe hy en sy byvrou en sy dienaar later die middag gereedmaak om terug te gaan, sê sy skoonpa vir hom: “Kyk, dis al amper donker, jy kan maar net sowel nog ’n nag hier oorbly. Slaap hier oor en die geniet die aand saam met ons. Julle kan môre vroeg opstaan en teruggaan huis toe.”
12-13. Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.”
14. Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom.
15. Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie.
16. Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly.
17. Toe die ou man die reisiger op die stadsplein sien sit, vra hy vir hom: “Waarvandaan kom jy? En waarheen is jy op pad?”
18. “Ons is op pad terug van Betlehem in Juda af na ’n afgeleë deel in die Efraimsberge,” het die Leviet geantwoord. “Ek is oorspronklik van daar af, maar ek het in Betlehem in Juda gaan kuier. Ons sit hier omdat niemand ons vir die nag ingenooi het nie.
19. Maar ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en my dienskneg. Ons het alles wat ons nodig het.”
20. Toe sê die ou man vir hom: “Julle is welkom in my huis, ek sal na al julle behoeftes omsien. Julle kan nie hier op die plein oornag nie. Dit is te gevaarlik.”
21. Hy het hulle saam met hom huis toe gevat en na hulle donkies omgesien. Daarna het hulle hulle voete gewas en aangesit vir aandete.
22. Hulle het net lekker begin kuier toe ’n klomp straatboewe van die stad daar aankom en aan die deur begin hamer. Hulle skree toe vir die ou man: “Bring die man uit wat daar by jou in die huis is. Ons wil seks met hom hê!”
23. Maar die ou man het uitgegaan om met hulle te probeer redeneer en vir hulle gesê: “Asseblief, my vriende, ek smeek julle, moet tog nie so ’n afgryslike ding wil doen nie. Hierdie man is tog ’n gas in my huis, dit sou ’n skande wees.