Rigters 19:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Hierdie keer was die Leviet vasberade om terug te gaan. Daarom het hulle klaargemaak en vertrek: hy, sy byvrou, sy dienaar en die donkies. Dit was al baie laat toe hulle in die omgewing van Jebus, dit is nou Jerusalem, aankom.

11. Die dienaar sê toe: “Dit word nou te donker om verder te reis. Kom ons bly die nag in Jebus oor.”

12-13. Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.”

14. Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom.

15. Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie.

16. Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly.

17. Toe die ou man die reisiger op die stadsplein sien sit, vra hy vir hom: “Waarvandaan kom jy? En waarheen is jy op pad?”

18. “Ons is op pad terug van Betlehem in Juda af na ’n afgeleë deel in die Efraimsberge,” het die Leviet geantwoord. “Ek is oorspronklik van daar af, maar ek het in Betlehem in Juda gaan kuier. Ons sit hier omdat niemand ons vir die nag ingenooi het nie.

19. Maar ek het genoeg voer vir die donkies, en kos en wyn vir my en die vrou en my dienskneg. Ons het alles wat ons nodig het.”

20. Toe sê die ou man vir hom: “Julle is welkom in my huis, ek sal na al julle behoeftes omsien. Julle kan nie hier op die plein oornag nie. Dit is te gevaarlik.”

21. Hy het hulle saam met hom huis toe gevat en na hulle donkies omgesien. Daarna het hulle hulle voete gewas en aangesit vir aandete.

Rigters 19