Rigters 16:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Maar Simson het net tot middernag bly lê. Toe staan hy op en gryp die toegesluite deure van die stadshekke en ruk hulle met slot en grendel uit hulle kosyne uit. Toe tel hy die hekke op sy skouers en loop met hulle die berg regoor Hebron tot bo uit. Daar het hy toe die hekke laat lê.

4. ’n Ruk later het Simson verlief geraak op ’n vrou wat in die Sorekvallei gebly het. Haar naam was Delila.

5. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Verlei vir Simson om jou te vertel waar sy krag vandaan kom. Vind ook uit hoe ons hom kan oorrompel om hom te boei sodat hy magteloos is. As jy dit doen, sal ons elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.”

6. Delila het toe vir Simson gevra: “Sê tog vir my waar kom jy aan jou bomenslike krag. Wat sou ’n mens moes gebruik om jou so vas te maak dat iemand jou kan oorrompel?”

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

8. Die leiers van die Filistyne het toe vir haar sewe klam boogsnare gebring waarmee sy Simson vasgebind het.

9. Intussen het sy ook vooraf van die mans in ’n ander vertrek in die huis laat wegkruip. Toe skree sy: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die boogsnare so maklik gebreek soos ’n garingdraad wanneer jy dit met ’n vlam brand. Die geheim van sy krag het steeds onbekend gebly.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het my vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou vir my waarmee ’n mens jou sou kon vasmaak!”

Rigters 16