Rigters 1:29-36 Die Boodskap (DB)

29. Dieselfde het ook met die stam van Efraim gebeur. Hulle kon dit ook nie regkry om die Kanaäniete wat in Geser gebly het te verslaan nie. Daarom het die Kanaäniete saam met hulle daar bly woon.

30. Ook die stam van Sebulon se aanslag op die dorpe Kitron en Nahalal was onsuksesvol. Al het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, het hulle steeds saam met hulle in hierdie gebiede gebly.

31. Die stam van Aser kon ook nie die dorpe Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob inneem nie.

32. Daarom dat die mense van Aser maar tevrede moes wees om saam met die Kanaäniete in hierdie gebiede te bly.

33. Die stam van Naftali kon ook nie daarin slaag om die inwoners van Bet-Semes en Ben-Anat uit hulle dorpe te verdryf nie. Hulle moes maar saam met hulle daar bly, alhoewel hulle dié mense verplig het om vir hulle te werk.

34. Die Amoriete het die stam van Dan die berge ingejaag en hulle nie toegelaat om op die vrugbare vlaktes te kom bly nie.

35. Daarom het die Amoriete in die dorpe Ajalon en Saälbim en ook by die berg Geres bly woon. Later het die afstammelinge van Josef sterker geword. Toe het hulle die Amoriete gedwing om vir hulle te werk.

36. Die grens van die Amoriete se gebied het vanaf Skerpioenpas tot by Sela geloop en van daar af in ’n noordelike rigting.

Rigters 1