Psalms 19:2-7 Die Boodskap (DB)

2. As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is oral in die lug opgeteken.In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.

3. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.

4. Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.Hulle boodskap word versprei sonder klanke.

5. Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie. Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,is vol van sy eer.As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.

6. Hy het die son soos ’n lig daarin opgehang om helder te skyn.Wanneer die son in die môre helder opkom, lyk hy soos ’n gelukkige bruidegom wat na die eerste nag by sy bruid met ’n glimlag by die huis uitstap.Sy gesig straal.Die son is so sterk en dapper soos ’n oorlogsheld wat sy taak vir die dag vol moed aanpak.

7. Hy begin met sy werk aan die een kant van die wêreld en loop heeltemal om tot by die ander punt.So straal die son sy hitte op elke millimeter van die wêreld uit.

Psalms 19