Psalms 18:16-29 Die Boodskap (DB)

16. Ja, Here, as U op mense skree, is dit nie speletjies nie.Dit is soos ’n orkaan wat alles uitmekaarruk. Jy sien die see se bodem en die aarde se fondamente.

17. Soos ’n sterk hand wat my uit diep, donker water pluk, gryp U my en lig U my uit.

18. My vyande was te sterk vir my, maar die Here het my gehelp. Hy het my gered van die mense wat te magtig vir my was.

19. Toe hulle my aanval en ek diep in die moeilikheid was,was die Here daar om my te help.Hy het my gehelp dat ek nie ondergaan nie.

20. Daarom het Hy my na ’n veilige plek toe gevat. Hy het my gered omdat Hy my liefhet.

21. Ja, Hy het my gered. Hy beloon my omdat ek reg gelewe het. Ek was onskuldig.

22. Omdat ek graag doen wat Hy van my vra, het Hy my gehelp.Omdat ek nie verkeerde dinge gedoen het nie, het die Here mooi vir my gesorg.

23. Ek het die reguit pad van die Here geloop. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het.

24. Ja, ek het voluit vir Hom geleef soos Hy van my verwag het. Ek het Hom opreg gedien.Ek was versigtig om niks verkeerds te doen nie.

25. Die Here het dit geweet. Ek was onskuldig in sy oë. Daarom was Hy goed vir my. Hy het my regverdig behandel.

26. As iemand getrou is, is die Here getrou. As iemand liefdevol optree, kry hy liefde van die Here af terug.

27. As iemand reg en goed optree, is die Here ook goed vir hom.As iemand slegte dinge doen, sal hy ervaar hoe dit voel as God slegte dinge aan hom doen.

28. As mense sleg behandel word, sal U hulle red.As mense egter te veel van hulleself dink, sal U hulle op hulle plek sit.

29. O Here, U is die lig in my lewe.As U by my is, verdwyn die donker.

Psalms 18