7. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk en die tweede een soos ’n os. Die derde een het ’n gesig soos ’n mens s’n gehad en die vierde een het gelyk soos ’n arend wat vlieg.Hierdie vier wesens het die skepping verteenwoordig: die arend het die vlieënde diere, die leeu die wilde diere en die os die mak diere verteenwoordig en die een met die gesig van ’n mens het al die mense verteenwoordig.
8. Elkeen van die vier diere het ook ses vlerke gehad. Niks in die skepping was dus buite hulle bereik nie, want met hulle vlerke kon hulle oral vlieg. Die vlerke was ook oortrek met oë wat alles sien. Dag en nag, sonder ophou, het hulle bly sê: “Heilig, heilig, heilig is God die Here, die Een wat mag oor alles het. Hy was nog altyd daar, Hy is nou steeds by ons, en Hy sal in die toekoms nog altyd by ons wees.”
9. Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie.