Openbaring 3:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Luister aandagtig na wat die Heilige Gees alles vir die Christene te sê het.

7. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Filadelfia: Hier is ’n boodskap vir julle. Dit kom van Jesus af wat nie een stukkie valsheid of leuen in Hom het nie. God is die fokus van sy hele lewe. Hy het die sleutel van Dawid om vir mense die deur na die nuwe Jerusalem oop te sluit of toe te sluit. Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie.

8. Ek weet waarmee julle julle besig hou. Kyk mooi. Ek het vir julle ’n deur oopgemaak. Niemand kan dit toemaak nie. Julle invloed in Filadelfia is maar klein. Ek weet dit! Maar dit bring julle nie van stryk nie. Julle leef soos Ek van julle vra. Boonop is julle nie skaam of bang om te erken dat julle Christene is nie.

9. Kyk! Daar is mos mense in julle dorp wat hulleself graag Jode noem en voorgee dat hulle deel is van God se mense. Maar waar kry jy hulle? Natuurlik, op die plek waar net die duiwel se mense bymekaarkom. Ek sal persoonlik sorg dat hierdie mense wat so baie van hulleself dink eendag voor julle sal moet kom staan. Daar voor julle sal hulle op hulle knieë moet val en laag moet buig. Een ding sal hulle dan deeglik besef: dat Ek aan julle kant is omdat Ek julle liefhet.

10. Ek het julle gevra om nie moed te verloor nie en julle het regtig vasgebyt tot die einde toe. God sal in ’n stadium elke mens op hierdie aarde toets. Daar gaan dinge gebeur wat swaar is. In hierdie baie moeilike tye kan elke gelowige maar weet: Ek sal na hom kyk!

11. Ek kom een van die dae na julle toe.

12. Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê. Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees.

13. Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het.

14. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle ’n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat.

15. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee!

16. Nou is julle so tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie.

Openbaring 3