Openbaring 2:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Skryf aan die leier van die gemeente in Efese die volgende: Dit is die Een wat die sewe leiers soos sterre in sy regterhand hou wat met julle praat. Ja, dit is Hy, Jesus, wat gedurig by sy sewe gemeentes, die sewe goue kandelare, is.

2. Ek weet wat julle doen. Ek sien hoe julle alles ter wille van die evangelie doen en weier om moed op te gee. Ek sien dat julle slegte mense nie voor julle oë kan verdra nie. Julle glo ook nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat voorgee dat hy God se boodskap preek nie. Ek weet julle het al ’n klomp van hulle vasgetrek wat voorgegee het om “groot predikers” te wees, maar van die kansel af staan en lieg. Mooi so! Ek herhaal: Ek kyk julle sterk eienskappe nie mis nie.

3. Ek sien hoe julle vasbyt wanneer dit swaar gaan. Julle hou maar net aan en aan, omdat julle dit graag vir My wil doen. Julle word nie moeg daarvan nie.

4. Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie.

5. Dink mooi hoe julle eers was en hoe julle nou is. Julle het darem ver geval! Verander weer julle gesindheid en optrede. Begin weer leef soos julle eers geleef het. Doen wat Ek graag wil hê julle moet doen. As julle nie wil verander nie, maar bly leef soos julle nou leef, het Ek slegte nuus vir julle. Julle gemeente sal ophou bestaan. Ek self sal julle gemeentekandelaar tussen die ander wegvat.

6. Ek sê nie julle het niks wat in julle guns tel nie. Julle haat mos die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek hou ook niks van hierdie klomp vals mense nie.

22-23. Ek gaan haar met ’n siekbed straf. En almal wat saam met haar so onsedelik geleef het, sal bitter swaarkry. Daarvoor sal Ek sorg. Dit is hulle voorland, behalwe as hulle heeltemal ’n omkeer in hulle lewe maak en My weer voluit begin dien. Ek sal elkeen uitwis wat haar slegte voorbeeld volg. Elke kerklidmaat sal dan besef dat mense My nie om die bos kan lei nie. Nee, niemand kan iets vir My wegsteek nie. Ek weet wat elkeen dink en wat hier diep binne hom aangaan. Onthou dit maar: elke gelowige sal van My kry wat hy volgens sy optrede verdien.

27-28. Die Vader het presies daardie mag vir My gegee. Julle sal oor al die mense heers. Met mense wat dit nie wil aanvaar nie, sal dit gaan soos met ’n porseleinpot wat met ’n yster in stukke geslaan word. Maar, vir elkeen wat volhou om My te dien, sal Ek ’n nuwe en wonderlike toekoms gee.

Openbaring 2