11. Die besigheidsmanne van die wêreld is net so hartseer oor haar. Hulle huil net sulke lang trane. Niemand wil nou meer hulle goed koop nie. Al die goed wat mense eers so graag wou gehad het, lê nou in hope op die mark, want niemand wil dit meer hê nie.
12. Daar lê goud, silwer, edelstene, pêrels; daar is die mooiste materiale, linne en sy. Daar is die mooiste kleure, pers en rooi. Die verskillende houtgoed is net so mooi. Die hout ruik lekker en sommige artikels is uit duur hout gemaak, en ivoor ook! Goed van brons, yster en marmer staan ook oral rond. Om nie eens te praat van al die duur kruie nie. Oral lê daar
13. kaneel, speserye en verskillende kruie wat lekker ruik, soos mirre en wierook. Aan eetgoed is daar ook nie ’n tekort nie. Duur kos, olie, wyn, meel en koring is vrylik beskikbaar. Selfs diere soos beeste, skape en perde kan ’n mens daar kry en daar is tot perdekarre! Om nie eens te noem dat ’n mens selfs mense daar kan koop nie: ja, daar is selfs slawe beskikbaar.
14. “Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!”
15. Hierdie einste handelaars wat so ryk geword het uit die stad sal haar nie nou gaan help nie. Hulle sal net van ver af staan en kyk. Hulle is bang dat wat die stad tref, hulle ook gaan tref.
16. Tog huil hulle kliphard: “Die arme, arme stad. Die groot, belangrike stad! Kyk net hoe het sy haar deftig opgetof met mooi pers en rooi klere. Kyk na al haar duur juwele: dis net pêrels en edelstene waar jy kyk!
17. In ’n enkele oogwink sorg God dat daar van al hierdie rykdom en weelde niks oorbly nie.”Die skeepskapteins, matrose en almal wat iets met die see te doen het, het van ver af gestaan en kyk.
18. Hulle het die rookwolke gesien wat van die stad af opgestyg het. Dit het hulle laat uitroep: “Wat ’n wonderlike stad was dit! Daar was nog nooit so iets nie!”
19. Om te wys hoe hartseer hulle regtig was, het hulle stof oor hulle gegooi. So deur die trane en snikke het hulle gesê: “Hoe ellendig, hoe verskriklik is dit tog nie! Kyk na die magtige stad. Almal wat skepe op die see gehad het, het skatryk geword. Daarvoor het sy gesorg. En nou, met een veeg van sy hand, het God ’n einde aan alles gemaak.”
20. In die hemel moet almal bly wees oor wat met die stad gebeur. Al God se mense, die mense wat Hy uitgestuur het om vir Hom te werk, hulle wat sy Woord moet verkondig, moet net so bly wees. God het haar immers gestraf oor wat sy aan hulle gedoen het.
21. Daar kom toe ’n engel wat baie sterk was. Hy vat ’n groot rots en gooi dit in die see. Hy kondig toe aan: “So, soos hierdie rots, sal die groot stad Babilon met mening neergegooi word. Soos die rots sal dit vir ewig verdwyn.
22. Daar sal net mooi niks oorbly nie, nie eens een musiekinstrument nie; nie eens ’n enkele ding wat iemand maak of bou nie; nie ’n korreltjie meel nie; ja, niks nie!
23. Daar sal nie ’n lampie oorbly om iewers sy dowwe liggie te gooi nie, wat nog te sê van die vrolike gesels van twee pasgetroudes.
24. Net mooi niks sal oorbly van Babilon nie, en sy was eens die een wat met al die belangrikste en rykste besigheidsmanne in die wêreld gespog het! Sy kon mense van oral af deur haar oëverblindery om die bos lei. Dit was ook die einste stad waarin die kinders van God en sy boodskappers doodgemaak is, ja, vermoor is!”