Openbaring 14:11-15 Die Boodskap (DB)

11. Die vuur se rook sal wys hoe seer hierdie mense brand. En dit sal nooit einde kry nie. Die arme mense wat die dier aanbid en met hom gespog het deur sy merk te dra, gaan baie swaarkry. Hulle sal dag en nag die ondraaglikste pyn moet verduur.

12. “Die mense wat aan God behoort, moet net vasbyt. Hulle moet op die regte pad bly. Hulle moet gehoorsaam doen wat God van hulle verwag en aan Jesus Christus getrou bly.”

13. Toe hoor ek ’n stem uit die hemel: “Skryf! Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar! sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes. God self weet dit baie goed.”

14. ’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het.

15. Skielik het ’n ander engel sy opwagting gemaak. Die engel het uit die blyplek van God gekom en hard geskree vir die Man wat op die wolk sit om te hoor: “Steek u sekel in. Maak die oes bymekaar. Die oestyd is hier, want die oes op die aarde is ryp.”

Openbaring 14