12. Hierdie dier kon alles doen wat die eerste dier gedoen het. Hulle het saamgewerk. Die tweede dier het net een doel gehad: hy wou sorg dat al die mense op die aarde die eerste dier - dit is nou die een met die dodelike wond wat gesond geword het - soos ’n god aanbid.
13. Hy het die wonderlikste dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hy het selfs vuurvlamme uit die hemel op die aarde laat reën. Hy het natuurlik gesorg dat almal dit sien.
14. Onnodig om te sê, maar hy het die mense met al hierdie wonderlike dinge die regte pad heeltemal byster laat raak. Hy het hulle selfs oortuig om vir die eerste dier (wat met die swaard gewond is, maar nog springlewendig is) ’n standbeeld te bou om hom só as ’n groot heerser te eer.
15. God het selfs toegelaat dat die beeld begin asemhaal en praat, soos die tweede dier wou. Die ergste is dat hierdie standbeeld enigiemand wat nie voor hom neerval en hom soos ’n god aanbid nie, daar en dan doodgemaak het. Hy het ook almal forseer om ’n merk op hulle regterhand en voor op hulle kop te dra. Aan die merk sou almal kon sien dat hulle aan die dier behoort.
16. Niemand het dit vrygespring nie; of jy nou belangrik was of nie, ryk of arm; ja, letterlik niemand nie, nie eens die eenvoudigste werker of die belangrikste baas nie. Almal moes daardie merk dra.