Openbaring 12:4-8 Die Boodskap (DB)

4. Hy swaai sy stert en slaan ’n derde van die sterre uit die hemel uit dat hulle tot op die aarde val. Die draak het reg voor die vrou gaan staan om die kind te verslind wat sy besig was om te kry.

5. Die kind word toe gebore. Dit was ’n seun, maar nie sommer enige seun nie. Hy is die Een wat oor al die mense in hierdie wêreld sal regeer. Wie nie na Hom luister nie, sal onder sy verskriklike straf deurloop. Die draak was te stadig. Toe die Seun gebore is, is Hy opgeraap en na God toe, wat oor alles heers, gevat.

6. Die vrou het die woestyn in gevlug waar God vir haar ’n spesiale plek reggemaak het. Sy het so lank as wat dit nodig was (omtrent so 1 260 dae) daar gebly. God het vir haar alles gegee wat sy nodig gehad het.

7. Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs.

8. Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt.

Openbaring 12