Numeri 6:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses gesê om die volgende opdrag aan die volk oor te dra:

2. “Wanneer iemand, ’n man of ’n vrou, die nasireërsbelofte aan die Here maak waarin hulle hulle verbind om Hom voltyds te dien vir ’n sekere tyd,

3. moet so ’n persoon dadelik ophou om wyn of bier te drink. Hulle mag ook nie asyn gebruik wat van wyn gemaak is of enige ander gegiste drank of selfs vars druiwesap nie. Hulle mag ook nie druiwe of rosyntjies eet nie.

4. Vir so lank as wat die persoon aan die Here se diens afgesonder is, mag hy of sy niks eet wat van ’n wingerd af kom nie, nie eers die pitte of die doppe van die druiwe nie.

5. “Nasireërs mag ook nooit hulle hare afsny nie. Die mans mag ook nie hulle baard afskeer vir die tydperk dat hulle voltyds in die Here se diens staan nie. Hulle moet hulle hare laat groei totdat hierdie tydperk van afsondering verby is.

6. Hulle mag ook nie naby ’n dooie kom nie,

7. selfs al sou een van hulle ouers of broers of susters doodgaan. Aangesien hulle lang hare die bewys is van hulle voltydse diens aan die Here, mag hulle nie naby ’n lyk kom of daaraan raak en so hulleself onrein maak nie.

8. Hierdie reëls geld vir die hele tyd dat hulle as nasireërs in die Here se diens is.

9. “Indien ’n nasireër toevallig naby iemand kom wat onverwags doodgaan, moet hy eers sewe dae wag en dan al sy hare en sy baard afskeer. Dan sal die nasireër weer in die Here se teenwoordigheid kan kom.

10. Die volgende dag moet hy twee tortelduiwe of twee mak duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent waar die Here aanbid word.

11. Die priester moet dan die een duif gebruik om vir sy sonde ’n offer aan God te bring en die ander een vir ’n brandoffer. So vra die nasireër om vergifnis voor God vir die fout wat hy onbewustelik gemaak het deur in die teenwoordigheid van ’n dooie te wees. Op dieselfde dag moet hy homself aan die Here se diens toewy deur sy hare en baard te laat groei.

12. Hy moet ook weer voor die Here beloof dat hy Hom voltyds sal dien vir die hele tyd wat hy belowe het om dit te doen. Die dae wat hy onrein was, tel nie. As deel van sy belofte moet hy ook ’n jaaroud lam as ’n offer vir die Here bring om sy skuld te bely.

Numeri 6