Numeri 5:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring.

19. Dan moet hy die vrou vra om plegtig te beloof dat sy die waarheid praat. Hy moet dan vir haar sê: As ’n ander man nie by jou geslaap het nie en jy wat ’n getroude vrou is, nie ontrou aan jou man was nie, mag jou onskuld dan sigbaar word deur hierdie bitter water wat ’n groot straf oor jou kan bring as jy jok.

20. Maar as jy die spoor byster geraak het en met ’n ander man seks gehad het,

21-22. mag die Here dan maak dat jou eie mense jou sal haat en verwerp. Mag jy dan nooit weer kinders hê nie sodat almal kan sien dat die Here se straf op jou rus. As jy skuldig is, mag hierdie water jou vir altyd onvrugbaar maak wanneer jy dit drink.“Hierop moet die vrou die priester dan antwoord: Dit is goed so. Laat dit alles presies net so gebeur.”

23. “Die priester moet hierdie vloeke op ’n stukkie leer neerskryf en dit in die bak met die bitter water afwas.

24. Dan moet hy die vrou van die bitter water laat drink sodat dit kan uitwys of sy skuldig is of nie.

25. Daarna moet die priester die offer by haar vat, dit aan die Here opdra en dit by die altaar neersit.

26. Dan moet hy ’n hand vol van die offer, wat eintlik ’n simbool vir die hele offer is, vat en dit op die altaar verbrand. Daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink.

27. As sy ontrou was aan haar man, sal die water haar baie siek laat word. Haar maag sal opswel, en sy sal nie weer kinders kan hê nie. Haar mense sal haar verag en verstoot.

28. Maar as sy nie ontrou was aan haar man nie, sal haar onskuld bewys word. Dan sal sy weer babas verwag.

Numeri 5