11. Die Here het verder vir Moses gesê:
12-13. “Die Leviete behoort aan My. Toe Ek al die oudste kinders van die Egiptenaars doodgemaak het, het Ek elke eersgebore kind in Israel, mense en diere, vir Myself opgeëis. Nou, in plaas daarvan dat Ek al die eersgebore kinders vir My vat, behoort die Leviete van nou af aan My. Dit sê Ek; Ek, die Here!”
14-16. Die Here het weer met Moses gepraat in die Sinaiwoestyn en vir hom die opdrag gegee om al die Leviete te tel. Dit moes die mans van ’n maand en ouer van al die groepe en families insluit. Moses het dit toe gedoen.
17. Levi het drie seuns gehad: Gerson, Kehat en Merari.
18. Die Gersongroep was Libni en Simi.
19. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.
20. Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was Levi se nageslag wie se familiegroepe die name van hulle voorvaders gehad het.
21. Gerson se nageslag het uit die familiegroepe van Libni en Simi bestaan.
22. Daar was altesaam 7 500 mans in hierdie groep.
23-24. Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel kamp opgeslaan onder leiding van Lael se seun Eljasaf.
25. Hulle werk was om die tabernakel in stand te hou: die tent met sy dekseile, die gordyn by die ingang van die tent,
26. die gordyn by die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was en al die toue, met alles wat dié diens insluit.