Nehemia 6:3-11 Die Boodskap (DB)

3. Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?”

4. Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur.

5. Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad,

6. en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak.

7. Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.”

8. My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.”

9. Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!”

10. Later het ek na Semaja seun van Delaja en die kleinseun van Mehetabel toe gegaan waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Ons twee moet saam in die woonplek van God, daar in die heiligste deel van die tempel, gaan wegkruip. Ons moet die deur sluit, want daar kom vannag mense om jou dood te maak.”

11. Ek het vir hom gesê: “Ek is nie die soort mens wat weghardloop en gaan wegkruip nie. Moenie dink ek sal in die tempel gaan wegkruip om my lewe te red nie. Vergeet dit!”

Nehemia 6