16. Daar het ook mense van Tirus in Jerusalem gebly en hulle het vis en allerhande ander goed in die stad ingebring en dit op die sabbat aan die mense in Jerusalem verkoop.
17. Ek het ernstig met die leiers van Juda hieroor gepraat: “Besef julle nie dat julle die sabbat verkeerd hou as julle sulke goddelose goed toelaat nie?” het ek gevra.
18. “Was dit nie presies wat julle voorouers gedoen het nie? Dit is oor sulke dinge dat hierdie stad vernietig is. Al wat nou gaan gebeur, is dat God weer verskriklik kwaad gaan word omdat julle toelaat dat die sabbat so verkeerd gehou word.”
19. Ek het toe beveel dat die stadshekke gesluit moes word sodra dit begin donker word op die Vrydagaand voor die sabbat en dat hulle nie weer oopgesluit mag word voordat die sabbat verby was nie. Ek het van my eie mense aangestel om die hekke op te pas om seker te maak dat niks die stad inkom nie.
20. Dit het een of twee maal gebeur dat van die handelaars op hierdie aande net buite Jerusalem kamp opgeslaan het.