Matteus 6:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Gee ons vandag genoeg om van te leef.

12. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie.

13. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.

14. “As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef.

15. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.”

16. “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg.

17. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie.

18. Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.”

19. “Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan.

20. Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie.

21. “Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.

Matteus 6