Matteus 5:32-45 Die Boodskap (DB)

32. “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.”

33. “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’

34. “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop.

35. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee!

36. “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie.

37. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.”

38. “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word.

39. “Ek sê egter vandag vir julle: julle moenie mense wat julle sleg behandel probeer terugkry nie. As iemand jou deur die gesig klap om jou te verneder moet jy dit maar vat. Moenie terugslaan nie.

40. En as iemand jou hof toe wil vat oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik vir hom terug. Sluit ook sommer ’n groot geskenk daarby in om die vrede te bewaar.

41. “As ’n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ’n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra.

42. “Julle moet vrygewig wees. Deel julle besittings met mense wat julle vra om hulle te help. Moenie mense wegjaag as hulle iets by julle wil leen nie.”

43. “Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’

44. “Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg.

45. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense se grond en oor slegte mense se grond.

Matteus 5