30. “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?”
31. “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’
32. “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.”
33. “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’
34. “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop.