Matteus 25:5-20 Die Boodskap (DB)

5. “Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak.

6. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’

7. Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees.

8. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring.

9. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle.

10. Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin.

11. “Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’

12. Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’

13. “Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. “Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.”

14. “Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit.

15. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg.

16. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword.

17. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel.

18. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek.

19. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het.

20. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’

Matteus 25