Matteus 25:19-32 Die Boodskap (DB)

19. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het.

20. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’

21. Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’

22. “Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’

23. Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker.

24. “Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê.

25. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’

26. Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle.

27. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het.

28. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen.

29. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het.

30. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.”

31. “Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit.

32. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei.

Matteus 25