4. “Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie.
5. Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hande klap. Hulle koop die grootste Bybels, bid die langste en sing die hardste in die kerk. Hulle probeer ook so vroom lyk dat ’n mens hulle dadelik tussen duisend ander mense sal uitken.
6. In die kerk hoef julle nie na hulle te soek nie. Julle sal hulle op daardie sitplekke kry waar niemand hulle kan miskyk nie.
7. En dit is vir hulle tog te lekker om in die winkels eerbiedig deur die mense gegroet te word met: ‘Goeiemôre, liewe Dominee,’ of watter titel hulle ook al belangrik laat voel.”
8. “Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie.
9. “Daarom moet julle selfs hier op aarde julle hemelse Vader se gesag bo alles erken, selfs bo die gesag van julle aardse pa.
10. “Oppas daarvoor dat mense na julle begin opsien as ‘supergelowiges’ omdat julle meer weet of meer ervare as hulle in die godsdienstige dinge is. Daar is net Een na wie opgesien mag word, en dit is Christus.
11. “Die reël wat elke gelowige moet onthou, is: onder God se kinders is die een wat die ander dien die belangrikste.
12. Dit beteken dat God die een wat gedurig die belangrikste wil wees en oor ander baas wil speel, heel agter in die ry sal laat staan. Die een wat egter ander dien sonder om gedurig te wonder hoe belangrik dit alles hom gaan maak, sal van God self die ereplek voor in die ry kry.”
13. “Luister, Fariseërs, godsdienstige leiers, julle wat mense so mislei, julle kan maar uit vrees vir God begin bewe. Julle beroof die mense van die kans om naby God te wees en Hom te dien. Julle self weet nie hoe dit voel nie en daarom gun julle dit ook vir niemand anders nie.
15. “Ek sê weer, julle kan maar begin bewe! Julle ry halfpad om die wêreld om een persoon te oortuig dat hy die Joodse godsdiens moet aanneem. En as hy dit doen, wat maak julle dan? Dan maak julle hom soos wat julle self is. En daarmee help julle die arme man die afgrond in, reguit die hel in.
16. “Ja-nee, julle is in die moeilikheid by God. Julle vertel vir almal dat julle net die mense is om hulle geestelik op die regte pad te lei.
17. Tog is julle so blind soos molle. Kyk net wat doen julle: julle sê vir mense dat as hulle iets beloof met hulle vingers gekruis, hulle nie hulle belofte hoef na te kom nie.
18. Maar beloof hulle iets met hulle hand op die Bybel, moet hulle dit ernstig bedoel.
19. Wat ’n klomp onsin! Is daar nou skielik baie meer krag in die buiteblad van die Bybel as in julle gekruiste vingers?
20. “Julle sê ook: ‘As iemand plegtig belowe dat hy iets sal doen, hoef hy nie sy woord te hou nie. As hy egter dieselfde ding beloof, maar dit op ’n stuk papier ook skryf, mag hy nie sy woord breek nie.’ Kry julle nie skaam nie? Wat dink julle is die belangrikste: Julle woorde of die stuk papier?