Matteus 23:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Jesus draai toe na die groep mense wat naby Hom gesit het. Sy getrouste volgelinge was ook onder hulle.

2. “Glo My,” sê Hy, “die Joodse teoloë en Fariseërs weet presies wat daar in die wet van Moses geskryf staan. Al wat hulle heeldag doen, is om die wet te lees.

3. Julle kan gerus maar luister na wat hulle oor die wet van Moses sê en dan ook so leef. Maar oppas! Moet net nie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. Hulle woorde en hulle dade verskil soos dag en nag.

4. “Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie.

5. Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hande klap. Hulle koop die grootste Bybels, bid die langste en sing die hardste in die kerk. Hulle probeer ook so vroom lyk dat ’n mens hulle dadelik tussen duisend ander mense sal uitken.

6. In die kerk hoef julle nie na hulle te soek nie. Julle sal hulle op daardie sitplekke kry waar niemand hulle kan miskyk nie.

7. En dit is vir hulle tog te lekker om in die winkels eerbiedig deur die mense gegroet te word met: ‘Goeiemôre, liewe Dominee,’ of watter titel hulle ook al belangrik laat voel.”

8. “Wees gewaarsku, julle almal wat My volg! Moenie toelaat dat mense dit aan julle doen nie. Moenie dat hulle julle so op ’n verhogie sit met ’n gedominee hier of ’n gepastoor daar nie. Onthou, julle is net belangrik omdat Jesus by wie julle alles gehoor het, belangrik is. Laat al die lof en eer maar na Hom toe gaan. Vir julle moet dit genoeg wees om mekaar se broers en susters genoem te word. Christene is mos deel van God se familie.

21-22. Antwoord vir My net dié vraag: Hoe kan gekruiste vingers, ’n stuk papier of die buiteblad van die Bybel nou ’n belofte maak of breek? ’n Belofte is mos ’n belofte! God steur Hom nie aan al hierdie dinge soos vingers of papier nie; vir Hom is ’n belofte ’n belofte wat nie gebreek mag word nie. Dit maak nie saak hoe die belofte gemaak is nie.

Matteus 23