Matteus 21:21-31 Die Boodskap (DB)

21. Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur!

22. “Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.”

23. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy weer reguit tempel toe. Die mense het om Hom begin saamdrom. Hy het hulle alles geleer van God se nuwe wêreld. Van die godsdienstige leiers en ’n paar van die belangrike mense uit Jerusalem sluit toe by die groep mense om Jesus aan en vra: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?”

24. Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers ’n vraag vra. As julle my vraag kan antwoord, sal Ek julle vraag antwoord.

25. Wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?”Die Jode het dadelik besef dat Jesus hulle nou in ’n hoek gedryf het. Hulle was in die moeilikheid, want sê hulle: “God het hom die reg gegee,” sal Jesus hulle vra waarom hulle nie geglo het wat Johannes gesê het nie.

26. Sê hulle weer: “Die mense het hom die reg gegee,” sal hulle in die gewone mense se slegte boekies kom. Die gewone mense het almal gedink dat Johannes ’n boodskapper van God was.

27. Om uit die moeilikheid te bly kon hulle maar net sê: “Nee, ons weet nie.”Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Maar dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.”

28. Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal? “Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’

29. ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help.

30. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie.

31. Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?”“Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.” “Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap?

Matteus 21