Matteus 21:18-23 Die Boodskap (DB)

18. Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel.

19. Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog.

20. Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle.

21. Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur!

22. “Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.”

23. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy weer reguit tempel toe. Die mense het om Hom begin saamdrom. Hy het hulle alles geleer van God se nuwe wêreld. Van die godsdienstige leiers en ’n paar van die belangrike mense uit Jerusalem sluit toe by die groep mense om Jesus aan en vra: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?”

Matteus 21