Matteus 20:22-34 Die Boodskap (DB)

22. “Jy en jou seuns weet nie wat julle vra nie,” antwoord Jesus.“Weet julle, Ek is op pad na my dood toe. Dit is soos ’n bitter beker wat Ek moet leegdrink. Sien julle daarvoor kans? Is julle ook bereid om ’n beker vol pyn en lyding leeg te drink?”“Waarom nie?” het hulle geesdriftig geantwoord.

23. “Ja, eintlik is julle reg! Julle sal nog baie swaarkry, net soos Ek. Julle sal ook een van die dae julle beker van lyding moet leegdrink. Maar wat julle versoek oor die beste plekke in die hemel betref: Ek besluit nie daaroor nie. My Vader self sal besluit wie dit kry.”

24. Toe die ander tien dissipels agterkom wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het, was hulle op die plek kwaad. Hulle het gedink dat die twee beste plekke nou voor hulle neus opgeraap is. Jesus wou egter nie hê dat hulle onder mekaar aan die stry moes raak nie.

25. Daarom roep Hy hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet mos hoe dit in die wêreld gaan: politici en mense in magsposisies speel heeltyd baas oor al hulle onderdane. Hulle misbruik hulle gesag en doen net wat hulle wil.

26. Julle mag egter nooit so maak nie. As een van julle in God se oë belangrik wil wees, moet hy bereid wees om ander te dien.

27. “Is julle op soek na ’n leiersposisie in die kerk? Wel, word dan ander gelowiges se slaaf. ’n Slaaf het net een doel voor oë, en dit is om sy eienaar van vroeg tot laat tevrede te stel.

28. Kyk na My: Ek is die Seun van die mens. Tog het Ek nie op ’n troon kom sit sodat mense My van kop tot tone kan bedien nie. Nee, Ek het gekom om te dien. Ek gaan binnekort selfs my lewe ter wille van julle almal opoffer. My lewe sal die losprys wees wat baie mense uit die mag van die dood loskoop.”

29. Later, toe hulle uit Jerigo stap, het ’n groot skare mense agter Jesus aangekom.

30. Hulle het by twee blindes verbygestap wat daar langs die pad gesit het. Toe hierdie mans hoor dat dit Jesus is wat by hulle verbystap, het hulle dadelik besef dit is hulle gelukkige dag. Hulle het skielik hard begin skreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!”

31. Maar die ander mense het vir hulle gesê: “Bly stil! Hou op om so te skreeu!” Dit het egter nie gehelp nie. Die blindes het net nog harder geskreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!”

32. Jesus stap toe tot by hulle en vra vir hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

33. “Ag, Here, ons wil so graag sien! Maak asseblief ons oë gesond,” antwoord hulle.

34. Jesus het hulle baie jammer gekry omdat hulle so hulpeloos daar gesit het. Toe vat Hy aan hulle oë. Dadelik kon hulle weer sien. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Vol blydskap het hulle daar en dan by die res van die skare ingeval en agter Jesus aangestap.

Matteus 20