Matteus 20:17-24 Die Boodskap (DB)

17. Op pad na Jerusalem het Jesus sy dissipels op ’n dag eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle:

18. “Soos julle weet, gaan ons nou Jerusalem toe. Daar gaan iets verskrikliks met My gebeur. Die godsdienstige leiers gaan My vang en My ter dood veroordeel.

19. Dan sal hulle My oorgee aan die Romeine. Hierdie spul sal My daar voor almal spot en beledig en My slaan. Uiteindelik sal hulle My kruisig. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”

20. Kort daarna het die ma van Johannes en Jakobus saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy kniel toe voor Hom en sê dat sy vir Hom iets belangriks wil vra.

21. “Wat het jy op die hart?” vra Jesus haar.“Belowe my asseblief dat wanneer U as Koning in God se nuwe wêreld heers, U vir my seuns die twee heel beste plekke daar sal gee. Laat hulle sommer reg langs U sit: een aan u linkerkant en een aan u regterkant.”

22. “Jy en jou seuns weet nie wat julle vra nie,” antwoord Jesus.“Weet julle, Ek is op pad na my dood toe. Dit is soos ’n bitter beker wat Ek moet leegdrink. Sien julle daarvoor kans? Is julle ook bereid om ’n beker vol pyn en lyding leeg te drink?”“Waarom nie?” het hulle geesdriftig geantwoord.

23. “Ja, eintlik is julle reg! Julle sal nog baie swaarkry, net soos Ek. Julle sal ook een van die dae julle beker van lyding moet leegdrink. Maar wat julle versoek oor die beste plekke in die hemel betref: Ek besluit nie daaroor nie. My Vader self sal besluit wie dit kry.”

24. Toe die ander tien dissipels agterkom wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het, was hulle op die plek kwaad. Hulle het gedink dat die twee beste plekke nou voor hulle neus opgeraap is. Jesus wou egter nie hê dat hulle onder mekaar aan die stry moes raak nie.

Matteus 20