41. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister.
42. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is.
43. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie,
44. sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg.
45. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.”
46. Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar opdaag. Hulle wou iets vir Hom sê.
47. Iemand het hulle opgemerk. “Jou ma en broers is hier buite. Hulle wil met jou praat.”
48. Jesus se antwoord was: “Kan julle vir My sê wie my regte familie is? Wie is regtig my ma en wie is regtig my broers?”
49. Hy wys toe na die mense wat Hom met oorgawe volg. “Sulke mense is my regte familie;
50. hulle is vir My my ma, my broers en susters. Almal wat lewe soos my hemelse Vader van hulle verwag, is ’n lid van my familie. Hulle is regtig my broers, my susters, my ma.”