Matteus 11:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Van die dag dat Johannes begin preek het tot nou toe het die onkeerbare krag van God se nuwe wêreld al keer op keer oor die mense gespoel. Mense wat op en wakker is, gryp elke geleentheid aan om deel te word daarvan.

13. As julle die moeite doen om die profete, asook die vyf boeke van Moses, goed te lees, sal julle agterkom dat dieselfde God wat deur julle Bybel praat, ook deur Johannes praat.

14. Luister mooi: Johannes is die Elia vir wie julle wag om julle aan die Messias voor te stel.

15. Hoor julle wat Ek sê?

16. “Laat Ek aan ’n voorbeeld dink om die mense mee te vergelyk wat so hardkoppig weier om dit te glo. Wel, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt:

17. ‘Ons speel musiek, maar dit is julle wat nie wil dans nie. Ons sing liedjies, maar julle sit daar soos ’n klomp lyke asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie kinders is met niks en niemand tevrede nie. Kyk net wat doen hulle:

18. Johannes het nie in die woestyn lekker kos geëet nie. En wat sê daardie mense toe? Hulle sê hy is van sy sinne beroof.

Matteus 11