Matteus 11:10-24 Die Boodskap (DB)

10. Die woorde van Maleagi is van hom waar:‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’

11. “Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy.

12. Van die dag dat Johannes begin preek het tot nou toe het die onkeerbare krag van God se nuwe wêreld al keer op keer oor die mense gespoel. Mense wat op en wakker is, gryp elke geleentheid aan om deel te word daarvan.

13. As julle die moeite doen om die profete, asook die vyf boeke van Moses, goed te lees, sal julle agterkom dat dieselfde God wat deur julle Bybel praat, ook deur Johannes praat.

14. Luister mooi: Johannes is die Elia vir wie julle wag om julle aan die Messias voor te stel.

15. Hoor julle wat Ek sê?

16. “Laat Ek aan ’n voorbeeld dink om die mense mee te vergelyk wat so hardkoppig weier om dit te glo. Wel, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt:

17. ‘Ons speel musiek, maar dit is julle wat nie wil dans nie. Ons sing liedjies, maar julle sit daar soos ’n klomp lyke asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie kinders is met niks en niemand tevrede nie. Kyk net wat doen hulle:

18. Johannes het nie in die woestyn lekker kos geëet nie. En wat sê daardie mense toe? Hulle sê hy is van sy sinne beroof.

19. “Daarna kom Ek toe onder skoot. Ek het mos lekker saam met my vriende geëet. Ook dit was nie goed nie. Oor My het hulle weer die volgende kwytgeraak: ‘Het julle gesien hoe baie eet hy? Skande, dat iemand hom darem so te buite kan gaan! En wat nog erger is, hy doen dit saam met daardie skurke wat ons wet so minag.’“Ja-nee, al wat hierdie mense kan doen, is kritiseer. Maar hoe voel God daaroor? Wel, God kyk na die gevolge van wat iemand doen. Dan besluit Hy of dít wat daardie persoon doen, goed of sleg is.”

20. Iets anders het Jesus ook gepla. In sekere dorpe het Hy baie gepreek en ook baie wonderlike dinge daar gedoen. Eintlik kon die mense nie oor sy wonderkrag twyfel nie. Ten spyte van dit alles het hulle bloot hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie.

21. Dit het Jesus ontstel: “Gorasin, Betsaida, julle is soos mense wat met die volgende tree by ’n vernietigende afgrond gaan afstort en julle gee nie eens om nie. Weet julle, as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het, was hulle binne sekondes op hulle knieë voor My. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad.

22. “Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref.

23. “Mense van Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering! Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek. Julle onthou mos nog hoe daardie sondige stad Sodom deur God vernietig is?

24. Wel, sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het wat Ek by julle gedoen het. Weet julle, hulle sou hulle lewe so vinnig verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie. Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie.”

Matteus 11