8. Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan.
9. Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.
10. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”.
11. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?”“Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel.
12. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp.
13. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.”
14. Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer.
15. Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe.
16. “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus.
17. “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie.