35. Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.”
36. Hy neem toe ’n kind en laat hom tussen hulle staan. Hy hou die kind vas en sê:
37. “Wie mooi en goed optree teenoor een van hierdie kinders omdat hy in My glo, tree eintlik mooi en goed teenoor My op. En as iemand mooi en goed teenoor My optree, tree hy eintlik goed op teenoor God wat My gestuur het.”
38. Johannes sê toe: “Here, ons het ’n vreemde persoon gesien wat sommer demone verjaag. Hy is nie een van ons nie, maar hy het u Naam gebruik om dit te doen. Ons het vir hom gesê om op te hou.”
39. “Julle moes dit nie gedoen het nie,” sê Jesus. “’n Persoon wat die een oomblik ’n kragtige ding namens My doen, kan nie die volgende oomblik omdraai en lelik van My praat nie.
40. Iemand wat nie ons vyand is nie, is ons vriend.”
41. “Luister ’n bietjie hier. Al sou iemand julle net ’n bietjie water gee omdat julle Christene is, sal God vir so ’n persoon iets teruggee.
42. En as iemand ’n Christen, al is hy hoe onbelangrik, op die verkeerde pad lei, sal God hom laat boet. Dit sal vir hom beter wees om ’n groot klip om sy nek vas te maak en in die diep see te gaan spring. Moenie dinge te ligtelik opneem nie.
43. Ek wil dit so sterk stel: as jou hand maak dat jy dinge doen waarvan God nie hou nie, raak ontslae van jou hand. Dit is beter om sonder ’n hand vir ewig saam met God te leef as om met twee hande in die hel te beland waar ’n vuur brand wat nooit sal doodgaan nie.
45. Dieselfde geld vir jou voete of oë. As jou voet veroorsaak dat jy die verkeerde pad loop, kap dit af. Gaan liewer kruppel die ewige lewe in as om met twee voete in die hel gegooi te word.
47. As jou oog die hele tyd net na verkeerde dinge wil kyk, ruk dit uit. Sorg liewer dat jy deel van God se nuwe wêreld is, al is dit met net een oog, want dit is beter as om met twee oë in die hel te sit.
48. Die Skrif sê mos: ‘In die hel gaan die wurms nooit dood nie en die vuur brand vir altyd.’
49. “Dit sal nie maklik wees nie. Dinge wat nie lekker is nie, sal help om mense beter Christene te maak.