Markus 9:24-40 Die Boodskap (DB)

24. Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.”

25. Jesus sien hoe die mense van alle kante af daar begin saamdrom. Hy praat toe streng met die bose gees: “Jy, gees wat keer dat hierdie seun kan hoor of praat, Ek sê nou vir jou, gee pad uit die seun uit en moenie ooit eens weer daaraan dink om terug te kom nie.”

26. Die gees het vreeslik gegil, die seun nog erger stuiptrekkings laat kry en is toe uit die seun uit. Die seun het doodstil bly lê. Baie mense het gedink hy is dood.

27. Jesus vat toe sy hand en help hom op, en die seun het regop gestaan.

28. Nadat Jesus-hulle weer by die huis ingegaan het, vra sy dissipels Hom stilletjies: “Hoekom kon ons nie van die bose gees ontslae raak nie?”

29. Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.”

30. Hulle is van daar af weg en is deur Galilea. Jesus wou ’n bietjie privaat saam met sy getrouste volgelinge wees.

31. Hy wou die tyd gebruik om hulle meer te vertel en te leer wat hulle moes weet. Daarom wou Hy nie gehad het dat enigiemand moes weet dat hulle daar is nie. Hy sê toe: “Die Seun van die mens gaan aan mense uitgelewer word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy uit die dood opstaan.”

32. Sy volgelinge het nie mooi verstaan waaroor Hy praat nie, maar hulle was te bang om Hom verder uit te vra.

33. Toe hulle in Kapernaum by die huis aankom, vra Jesus hulle: “Waaroor het julle op pad so ernstig met mekaar gesels?”

34. Nie een het iets gesê nie, want hulle het gestry oor wie van hulle die belangrikste was.

35. Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.”

36. Hy neem toe ’n kind en laat hom tussen hulle staan. Hy hou die kind vas en sê:

37. “Wie mooi en goed optree teenoor een van hierdie kinders omdat hy in My glo, tree eintlik mooi en goed teenoor My op. En as iemand mooi en goed teenoor My optree, tree hy eintlik goed op teenoor God wat My gestuur het.”

38. Johannes sê toe: “Here, ons het ’n vreemde persoon gesien wat sommer demone verjaag. Hy is nie een van ons nie, maar hy het u Naam gebruik om dit te doen. Ons het vir hom gesê om op te hou.”

39. “Julle moes dit nie gedoen het nie,” sê Jesus. “’n Persoon wat die een oomblik ’n kragtige ding namens My doen, kan nie die volgende oomblik omdraai en lelik van My praat nie.

40. Iemand wat nie ons vyand is nie, is ons vriend.”

Markus 9