Markus 9:21-32 Die Boodskap (DB)

21. “Hoe lank gebeur dit al met hom?” vra Jesus sy pa.

22. “Vandat hy klein is, kry hy sulke snaakse aanvalle,” kom die antwoord. “Dan gooi die gees hom in die vuur of in die water om hom te probeer seermaak.

23. As U ons enigsins kan help, smeek ek U, sien ons verdriet raak en help ons, asseblief!”Jesus reageer toe: “Sê jy: ‘As Ek kan’? Wel, as ’n mens vertrou, is enigiets moontlik.”

24. Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.”

25. Jesus sien hoe die mense van alle kante af daar begin saamdrom. Hy praat toe streng met die bose gees: “Jy, gees wat keer dat hierdie seun kan hoor of praat, Ek sê nou vir jou, gee pad uit die seun uit en moenie ooit eens weer daaraan dink om terug te kom nie.”

26. Die gees het vreeslik gegil, die seun nog erger stuiptrekkings laat kry en is toe uit die seun uit. Die seun het doodstil bly lê. Baie mense het gedink hy is dood.

27. Jesus vat toe sy hand en help hom op, en die seun het regop gestaan.

28. Nadat Jesus-hulle weer by die huis ingegaan het, vra sy dissipels Hom stilletjies: “Hoekom kon ons nie van die bose gees ontslae raak nie?”

29. Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.”

30. Hulle is van daar af weg en is deur Galilea. Jesus wou ’n bietjie privaat saam met sy getrouste volgelinge wees.

31. Hy wou die tyd gebruik om hulle meer te vertel en te leer wat hulle moes weet. Daarom wou Hy nie gehad het dat enigiemand moes weet dat hulle daar is nie. Hy sê toe: “Die Seun van die mens gaan aan mense uitgelewer word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy uit die dood opstaan.”

32. Sy volgelinge het nie mooi verstaan waaroor Hy praat nie, maar hulle was te bang om Hom verder uit te vra.

Markus 9