Markus 6:4-12 Die Boodskap (DB)

4. “So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.”

5. Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak.

6. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie.Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel.

7. Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag.

8. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie.

9. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.

10. As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.

11. As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het.

12. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe.

Markus 6