Markus 6:35-44 Die Boodskap (DB)

35. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al.

36. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?”

37. “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.”“Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?”

38. “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe.Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord.

39-40. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit.

41. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet.

42. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het.

43. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol.

44. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000.

Markus 6