20. Toe hulle uiteindelik moeg was om Jesus so te spot, trek hulle die pers klere uit en trek Jesus se eie klere weer vir Hom aan. Toe vat hulle Jesus na die plek toe waar Hy gekruisig moes word.
21. ’n Sekere man wat oorspronklik van Sirene in Afrika af gekom het, het juis toe daar verbygestap. Hy was op pad van die platteland af dorp toe. Sy naam was Simon en sy kinders was Aleksander en Rufus.
22. Die soldate gee hom toe sommer die kruis en sê hy moet dit na Golgota, oftewel die “Plek van die Kopbeen”, toe dra.
23. Daar wou hulle Hom wyn wat met galbitter kruie gemeng is, gee om sy pyn so ’n bietjie te stil. Jesus wou dit nie vat nie.
24. Toe kruisig hulle Hom. Sy klere het hulle gevat en lootjies getrek om te sien wie wat moet kry.
25. Dit was so nege-uur in die môre toe hulle Jesus gekruisig het.
26. Op die kennisgewing wat verduidelik het hoekom Hy gekruisig is, het gestaan: “Die koning van die Jode.”
27. Saam met Jesus het die soldate ook twee ander mans aan kruise weerskante van Jesus opgehang. Hulle was diewe.
29. Die mense wat daar verbygestap het, het hulle kop geskud. Hulle het allerhande lelike dinge vir Hom geskree en Hom gespot. “Komaan, jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en weer in drie dae sal opbou. Toe, wys nou wat in jou steek.
30. Klim van die kruis af. Red jou eie lewe!”
31. Die godsdienstige leiers van die Jode het net so te kere gegaan. Hulle het Jesus onder mekaar gespot: “Dit help nou veel. Ander kon hy help,” het hulle gesê, “maar nou kan hy homself nie eens uit die moeilikheid help nie.