Markus 14:45-55 Die Boodskap (DB)

45. Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang.

46. Die mense storm op Jesus af en vang Hom.

47. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf.

48. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe.

49. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.”

50. Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom.

51-52. Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly.

53. Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe.

54. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak.

55. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie.

Markus 14