Markus 14:38-48 Die Boodskap (DB)

38. Jy sal baie wakkerder moet wees as dit by versoekings kom. Vra God om jou te help om nie die verkeerde dinge te doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie.”

39. Weer het Jesus gaan bid en dieselfde as die eerste maal gevra.

40. Toe Hy terugkom, kry Hy die drie weer so. Hulle was so vaak dat hulle sowaar weer aan die slaap geraak het. Toe Jesus daar aankom, was hulle so skaam dat hulle nie mooi geweet het wat om vir Hom te sê nie.

41. ’n Derde maal het Jesus gaan bid en toe Hy terugkom, sê Hy vir hulle: “Julle lê lekker en slaap asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus. Dit is nou genoeg. Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul sondige Jode gaan My netnou kom vang en dit omdat iemand My gaan verraai.

42. Komaan, laat ons gaan. My verraaier is net hier om die draai.”

43. Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur.

44. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.”

45. Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang.

46. Die mense storm op Jesus af en vang Hom.

47. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf.

48. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe.

Markus 14