1. Toe Jesus die mense klaar geleer het, het Hy weer na Kapernaum toe gegaan.
2. Daar was ’n belangrike offisier in die Romeinse leër. Sy werker was baie siek. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou doodgaan.
3. Toe die offisier hoor dat Jesus in die dorp is, het hy gou ’n paar van die Joodse leiers in Kapernaum gevra om na Jesus toe te gaan. “Vra Hom om na my huis toe te kom en my werker gesond te maak,” het die offisier gesê.
4. Toe die mans by Jesus kom, het hulle Hom vertel wat aan die gang was en Hom gesmeek om na die Romeinse offisier se huis toe te gaan. “Weet U, hy is ’n wonderlike man. As daar nou een persoon is wat ’n wonderwerk verdien, is dit daardie Romeinse offisier.
5. Hy beteken so baie vir ons mense. Hy het selfs ons sinagoge hier in Kapernaum vir ons gebou,” het hulle vir Jesus gesê.
6. Jesus het ingestem en saam met hulle gegaan. Toe hulle so ’n entjie van die offisier se huis af was, het hy van sy vriende na Jesus toe gestuur om vir Hom te sê: “Here, moet asseblief nie die moeite doen om verder te loop nie.
7. Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond.
8. “U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!”
9. Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het.
20-21. Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien.