21. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld.“Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier.
22. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees.
23. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel.
24. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie.