Lukas 5:21-37 Die Boodskap (DB)

21. Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.”

22. Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder?

23. Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik.

24. Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.”Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.”

25. Die man het nie ’n oomblik gehuiwer nie. Voor almal het hy opgestaan, sy draagbaar gevat en na sy huis toe gestap. Hy het God hardop geloof en geprys.

26. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle is met groot respek vir God vervul. “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik God is,” het hulle vir mekaar gesê.

27. Van daar af het Jesus verder gestap tot by die kantoor van ’n man wat belasting ingevorder het. Sy naam was Levi. Toe Jesus vir Levi daar by sy kantoor sien sit, sê Hy vir hom: “Volg My!”

28. Levi het nie op hom laat wag nie. Hy het alles waarmee hy besig was net so gelos en saam met Jesus gestap.

29. Van daar af is hulle na Levi se huis toe. Levi het gou ’n groot klomp van sy vriende vir ete oorgenooi. Hy was so bly oor wat met hom gebeur het dat hy voor almal vir Jesus wou dankie sê. ’n Groot groep tollenaars en ’n klomp ander mense saam met wie die godsdienstige leiers nooit aan ’n tafel gesien wou wees nie, het toe saam met Jesus en Levi kom feesvier.

30. Die godsdienstige leiers het gesien dat Jesus saam met al hierdie mense aan tafel sit. Hulle was baie geskok daaroor. Hulle het toe vir sy dissipels gevra: “Hoe kry julle dit reg om saam met ’n klomp skelms en sondaars te eet en te drink? Julle weet mos dat rein mense nie saam met onrein mense mag eet nie.”

31. Jesus het gehoor wat hulle vir sy dissipels sê. Hy antwoord hulle toe: “Wat dink julle is dokters se werk? Moet hulle heeltyd gesonde mense oppas? Of moet hulle siek mense help? Julle weet mos wat die antwoord is: dokters is daar vir siek mense.

32. Wel, Ek ook. Dis nie my werk om mense wat klaar aan God gehoorsaam is, weer ’n keer na Hom toe te lei nie. Ek het gekom om mense wat glad nie in Hom glo nie se oë oop te maak.”

33. Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Jy moet net sien hoe toegewyd al Johannes die Doper se volgelinge is. Hulle is so ernstig in hulle godsdiens dat hulle lang tye niks eet nie. Hulle vas en bid gereeld. Die Fariseërs doen dit ook. Maar jou dissipels steur hulle glad nie daaraan nie. Hulle eet en drink net die hele tyd.”

34. Jesus sê toe vir hulle: “Julle het nie die vaagste idee waaroor godsdiens regtig gaan nie. Kyk, as mense by ’n troue is, staan hulle mos nie met lang gesigte en huil nie. Hulle vier dan fees, nie waar nie? Dan eet en drink hulle omdat hulle saam met die bruidegom bly is.

35. Later, as die troue verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan. Dan sal hulle weer vas.

36. “Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel met ’n voorbeeld: as iemand ’n gat in ’n ou stuk klere wil regmaak, lap hy dit mos nie met nuwe materiaal wat baie sal krimp nie. Met die eerste was gaan die nuwe materiaal krimp en dan kom daar ’n yslike gat in die ou klere.

37. “Nog ’n voorbeeld: ’n mens gooi ook nie nuwe wyn in ou, verweerde sakke nie. Anders skeur die sakke en dan loop al die wyn uit.

Lukas 5