14. “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”
15. Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.”
16. Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie.
17. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het.
18. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook.
19. Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink.
20. Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het.
21. Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het.
22. Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis.
23. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het.
24. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen.
25. Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom.
26. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie.
27. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy.
28. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê:
29. “Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf,
30. want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red.
31. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien.
32. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.”
33. Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het.
34. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat.